Dis mos my mense dié

 

 

Ek drink nie gewoonlik wyn deur die dag nie, maar sulke ham vra vir vino tinto.

 

Weg van Villacazar de Sirga.

 

Gister stap ek met sonsopkoms uit Villacazar de Sirga. Dit klink effens meer dramaties as wat dit was, want hier kom die son eers goed na sewe op. Die hostal waar ek geslaap het was creepy – ruik na ontsmettingsmiddel, maar die verhitting werk nie en die mure is papierdun. Dwarsdeur die nag hoor ek mense hoes en prewel.

Die volgende dorp is Carrion en daar kry ek mede-peregrinos wat die eerste aand ons Baskiese ervaring gedeel het. Catalina, die veearts van Culombië, Tatiana van Brasilië en Gabby van Kaapstad. Weer besef ek dat hier op die Camino n mens regtig nooit iemand verloor nie.

Die pad is lank en reguit. Meer as 20 km, sonder dorpie of bar in sig. Toe ek amper moed opgee dat daar ooit weer lewe hier om my sal wees, kom n jong Hongaarse meisietjie verby en gee vir my n Mentos sweetie uit n pakkie. Ek kry omtrent trane in my oë van dankbaarheid.

Uiteindelik kom ek in Caldazilla de la Cuerza aan. Hier speel elke middag se binne-krisis homself af. Waar moet ek bly?  Albergue (baie mense in een kamer) of hostal (eie kamer, maar baie eensaam). Ek kies die Albergue Real. Skaars my slaapsak op die bed uitgerol, of die mannetjie by ontvangs beduie dat hier nog Suid-Afrikaners gaan kom slaap. Een in die groep is moeg gestap en die man het terggegaan om te help sak dra.

So ontmoet ek hulle. Karen, Pat en Maria van die Pêrel (min of meer my ouderdom) en n jonger man wat lyk of hy in Thabazimbi sou kon boer. Ons sien mekaar later by die enigste eetplek in die dorpie en sit saam aan tafel. Ek vra vir Paul wat hy doen. Hy in die Katolieke priester op die dorp. Dis sy derde Camino en hy loop saam met drie gemeentelede. Ons lag en gesels en drink wyn.

Later sit ek en Karen en Paul en speel rummy terwyl die skemer oor die klein tuintjie van die Albergue daal. Maria kom sê nag met: ek sien djulle later, nê? Ons lag vir haar Kaapse maniere.

My hart sing. Hierdie is my mense. Ek hoef niks te verduidelik nie. Ek kan maar net lekker kaart speel saam met die Roomse priester en sy gemeentelede van daar doer in die Kaap.

 

Op pad na halfpad

 

 

En sonskyn.

 

Dit word lente hier by die alberge.

 

Onverwagste metaalkuns.

 

My enigste geselskap na kilometers se alleenstap.

 

As die engele waghou.

 

As ek die Camino in Suid-Afrika sou stap, sou dit sover wees as van Pretoria na Richmond in die Karoo, of soos my mede-peregrino, Bianca van Boesmansriviermond reken, van Kenton-on-Sea tot in Kaapstad. Op dié manier gesien is ek nou naby Bloemfontein en sy is naby Mosselbaai. Naby halfpad – of dit nou in die Vrystaat, op die Tuinroete of op die Camino de Santiago in Spanje is.

Na n vrolike aand van kuier en kokery, vertrek ek eergister uit Hornillos del Camino. Uit by die deur, maar net so vinnig weer terug. Die reën stroom in emmers neer. Ek trek my baie mooi rooi reënjas aan wat ek spesiaal in St Jean vir n dag soos dié gekoop het. Dit het n groot boggel op die rug wat oor my rugsak pas. Al lyk ek soos die hunchback of Notre Dame, voel ek heel tevrede dat ek so goed toegerus is. Die positiewe gevoel taan soos die pad aangaan. Ons stap op n plaaspad en stelselmatig begin klei onder my skoensole saampak. Niks kan dit loskry nie. Later voel dit of ek ten minste n kilogram swaarder aan elke voet dra en ek moet myself inspan om vorentoe te beweeg. My kop is ook effens seer van te veel vino tinto die vorige aand. Misrabel is nie die woord nie.

Na n ewigheid kom ek uiteindelik in Castrojeriz aan. Ek is so pê dat ek by die eerste hostal in die dorp inboek. Dis afgeleef en donker, maar ten minste het ek my eie kamer en stort. Later die middag hou die reën op en ek waag dit buite toe. Bo die dorpie is die bouval van n reuse-kasteel wat fabelagtig teen die grys wolke uitrys. Ek stap in die straat af, maar daar is geen teken van lewe nie. Die ergste Sondagmiddag blues sal hier van n mens besit neem!

Die volgende oggend skyn die son asof hy nooit weg was nie. Weer kyk ek op na die bouval van die kasteel wat nou geel teen die blou lug uitstaan. Ek stap met n lied in my hart. Die pad is maklik en ek is lekker uitgerus. Net na een het ek my 20 km vir die dag kafgedraf en kom ek in Boadilla del Camino aan. Ek bly in n vrolike Alberge wat deur n gesin gerun word. Die ma is n kunstenaar en haar skilderye pryk teen die mure. Een broer boek ons in Engels in (baie selde dat dit gebeur) en die ander broer dra bier aan. Gisteraand eet ons almal lekker ham en cickpea sop, beesvleisbredie en flan vir nagereg. Die tuin is pragtig uitgelê met oranje en rooi tulpe in blombakke.
En toe vandag. Ek stap n alternatiewe roete lang die rivier. Dis bewolk maar dit reën nie. En skielik is daar net niemand nie. Vir ure is dit net ek en die voëls en die rivier. Later sien ek n trop skape op die oorkanste oewer. Ek hoor cuckoos en klein geelbors voëltjies vlieg ente saam met my. Ek is dankbaar dat dinge nie altyd nét sleg of nét goed is nie. Niks bly dieselfde hier op die Camino nie – dankie tog daarvoor, want more is nog n dag.

Hierdie is net so weird

 

 

Kerke oral, soos die pad aangaan.

 

Ons het maar almal ons issues.

 

Die pad is lank en swaar.

 

En die mense wag al daar.

 

 

Vanoggend stap ek uit Burgos waar dit bitter eensaam in n 3-ster hotel was. Na bietjie body admin wonder ek wat de hel ek alleen in hierdie flippen plek op n Vrydagaand maak. Gelukkig is daar n half botteltjie Rioja wyn en n piesang wat my tot slaap dryf.

Na n wonderlike hotel brekfis met bacon en eier, vrugte en koffie by die koppies-vol vat ek die pad. Baie gou loop ek vir Ellen raak, die jong Aussie wat ek die vorige aand in Cardenuela Riopico saam mee gebly het. Ons het n kamer gedeel met Linda (die Hollander – my ouderdom) en Vironica (die Slovaak), net oor die 30.

Ek en Ellen geniet n wonderlike tyd saam. Sy is n designer, 24-jaar oud en bly in Melbourne. Ons geniet die voëls, die Meseta (amper soos n Spaanse Karoo – baie groen vir die Karoo) en gou loop ons die 20 km na Hornillos del Camino.

Hier slaap ek vanaand saam met 12 mense in die kamer. Die nasies verteenwoodig is sekerlik 10. Min of meer helfte-helfte mans en vrouens. Ouderdomme 19 tot 70, skat ek. Hoe weird is dit?

Omdat die dorpie so klein is en omdat ons lus is, besluit ek en Linda om te kook. Ons koop rys en groente van die klein winkeljie. Ek prakseer n risotto en sy maak groente met lensies. Andrew, n Ier vra of hy kan saam eet as hy die skottelgoed was. Uiteindelik om die tafel sit ek en Linda (die kokke), Nicholas ( wie ek glo Jesus se broer is, maar meer oor hom later) van Frankryk, Andrew (ons skottelgoedwasser), Ellen en Veronica. Bietjie verder langs die tafel sit n ouerige man. Ek vra vir Linda of ons hom kan nooi om saam te eet. Hy bied sy brood en chorizo aan en sê dis sy eerste warm kos in n week. Sy naam is Valentin en hy kom van Frankryk. Hy sal binnekort moet ophou stap, want hy het nie meer geld nie.

Ons eet saam en geniet elke oomblik. Ek knyp myself en sê hierdie kan nie waar wees nie. Dis net weird verby!

Musiek in my ore

 

 

Burgos in die verte.

 

Die buitewyke van Burgos.

 

Burgos se katedraal van buite gesien.

 

Binnewerk in Burgos se katedraal.

 

Gister stap ek deur die Spaanse platteland met Burgos wat wink in die verte. Ek slaap by n klein Alberge so 13 km buite die stad en deel lekker vars slaai, hoender en aarbeie vir nagereg met my mede-peregrinos. Om die tafel sit n Tjeg, n Slovaak, n Hollander, Spanjaard, Aussie, Franse vrou en ek. Diversiteit op sy beste.

Ek het die afgelope paar dae met musiek gestap. My iPad bly in die deksel van my rugsak. Vandaar lei ek my oorfone na my ore toe – nogal n gedoente as ek my rugsak afhaal, maar dit werk eintlik baie goed. Die plesier is dat ek nie weet wat gaan speel nie. Ek luister alfabeties van bo af. Daar is radio 702 se Solid Gold-versameling. Elke liedjie bring n herinnering van garage paarties, met streep t-shirts en Gap jeans. Dan is daar die virtuoos violis Izhak Perlman se CD wat William vir my opgelaai het. Die woord ‘espanjol’ kom feitlik in elke stuk voor en ek kry hoendervleis om in hierdie omgewing daarna te luister.

Ek het ook n paar vinyls gekopieer: Janis Ian, Dory Previn en n dansplaat wat nog van my ouers af kom, Dance a go go. Ek stap nog so aan en daar begin dit: Alles instrumenteel en so bekend: Hallo Dolly, Piaf se Milord en so gaan dit aan. Dan kom die stadige nommers en Blue Moon speel.

Ek is terug in die laerskool. Ek en sussie Liz sit op my ma-hulle se dubbelbed en werk deur haar juwelekissie. Ons kies ons gunstelinge en pak dit in hopies. Ek gaan vir cheap & cheerful – borspelde met edelweisse en blou klokblmmetjies, stringe houtkrale. Liz is meer kieskeuring – amber krale wat swaar in die hand lê, mooi goed waarin n ontwerper n hand gehad het.

Oor die roomkleurige viniel stoel in die hoek hang my ma se aandrok. Dis ougoud en navy, van syerige materiaal. My ma en pa maak reg vir n aand uit. Agter die konsertina-badkamerdeur lê sy in die bad en my pa stort en skeer. Hulle praat land en sand oor Corlett Drive aandele, Sir de Villiers Graaff en ons opkomende vakansie in die Transkei. Later smeer sy Charles of the Ritz se Revenessence uit n swaar bruin glas bottel op haar gesig en nek. Sy tik druppeltjies Joy by Patou wat in n goue boksie langs die juweelkissie bly, agter haar ore. Dan die lang ougoud hanskoene met die dress ring met die groot bruin steen oor die behandskoende vinger. My pa glip n geel pakkie Rembrandt van Rijn sigarette in sy baadjiesak. Hy is nie n roker nie, maar dis die regte ding om te doen. Later vanaand is ek seker sal hulle op Blue Moon dans. Ek weet dis hoe ek wil wees as ek groot is.

Nou is ek groot en ek en Duan praat ook land en sand. As hy in n ander land is praat ons oor Messenger, anders in die kar oppad om drinks te hê met vriende in ons werksklere van die dag. Ons praat oor Naspers aandele, Julius Malema en eiendom in Malta.

Ek stap op die verlate grondpaatjies van die Camino en die trane loop onder my donkerbril uit. Blue Moon speel en dis musiek in my ore.

Hier sou Tim Noakes die horries kry

 

 

Om oor ‘n brug te stap. Puente la Reina.

 

Sneeu op die bergtoppe. Winter is nog hie heeltemal verby nie.

 

Ons is nie die eerste mense hier nie.

 

Klein kerkdeur in blou.

 

Toe Tim Noakes sy hoë proteïen, lae koölhidraat dieet uitgedink het, het hy seker nie aan die peregrinos op die Camino gedink nie. Hier is dit beslis die teenoorgestelde, en snaaks, dit werk – soos dit seker al oor die eeue doen.

Soggens begin n mens vir ontbyt met n stuk brood so lank soos jou voorarm. Jy sny dit in die lengte deur en plak dit dik met botter en iets soets. My gunsteling is heuning, maar dis nie altyd te kry nie. Andersins mermalada (soek die stukkies sitrus) of iets wat soos die mixed fruit jam lyk wat ons in die ou Suid-Afrika op die bediendes se brood gesmeer het. Dit sluk jy af met soet lemoensap en n koppie of twee cafe con leche (koffie met baie melk). Die enigste proteïen wat ek tot dusver vir ontbyt gehad het was n blou gekookte eier en hier en daar n stukkie kaas.

Ek eet nie as ek stap nie. Dis asof my voete vir my maag sê: jammer ou pêl, dis nou eers ons beurt. Meeste dae stop ek by n stalletjie so driekwart deur die stap en koop n piesang – weer eens nie n Noakesiaanse gunsteling nie. Na n San Miguel (lekker Spaanse bier) eet n mens gewoonlik n peregrino menu wat jou deur die bank €10 uit die sak jaag. Daar is n voorgereg, paella, sop of pasta of n salde mixte, as jy gelukkig is, dan of varkvleis, vis of varkvleis (die keuse is ietwat beperk) en n bakkie joghurt, roomys of flan (gekoopte creme caramel). By elke ete is daar n mandjie brood en n erdekruik vino tinto. Ek eet heerlik aan al die koölhidrate en voel jammer vir onse Tim dat hy so uitmis.

My beste tot dusver is die pinxtos of tapas wat n mens in die bars kan koop. n Halwe gekookte eier met n vet prawn daarop en n groot leksel mayonnaise, of n blokkie tuna met fyngesnyde rou uie en vasgepen met n olyf of n anchovy. Maar die lekkerste tot dusver was n skyf droog gebraaide spek (nogal dik) met crackling teen die rugkant af. Bestel jy dit, sny die bar-man dit in klein stukkies, maak dit bietjie warm en dien dit op met n lepel jalapeno chillies. Dit kom met die noodwendige manjie brood en n klein vurkie. Ek sit in die bar en kyk Europese sokker en eet my varkvleis, stukkie vir stukkie, met teugies rooiwyn tussenin. Pure vreugde.

Ek is seker daar is n manier om Tim se gospel hier op die Camino uit te leef, maar tot dusver is ek net dankbaar vir die lekker kos wat my genoeg krag gee om die een voet voor die ander te sit.

Vanaand slaap ek in n piepklein dorpie St Juan de Ortega. Sesuur was daar mis in die kerk, waar dié wat dit bygewoon het na die tyd n kruisie op n toutjie van die priester gekry het en n seëning om ons veilig te hou. Daarna was dit brood, wyn en varktjops in die bar – n feesmaal vir n moeë liggaam.

Ontmoet die Hoofmeisie van die Camino

 

Die winter is nog nie verby nie.

Nog ‘n ver pad om te gaan.

Eers afdraend en dan opdraend.

‘n Hippie-alberge.

Die hoofmeisie-fenomeen het my nog altyd opgeval. In Suid-Afrika kom hulle dikwels voor. Boggomsbaai, waar ons vakansie hou, het een, asook elke kleuterskool, laer- en hoërskool waarby ek ooit betrokke was – ek praat hier oor die ma’s, nie die kinders nie! En so ontmoet ek die hoofmeisie van die Camino, n ware voorbeeld van haar spesie. 

Haar naam in Catarine, sy is 33 jaar oud, kom van Swede, maar bly nou in Londen met haar veel ouer Hollandse man. Voor sy haar pos bedank het om op die Camino te kom, was sy n food & beverage manager vir n vyfster Londense hotel. Sy het pikswart oë en hare en n koelronde lyfie. Die verskil tussen haar voorkoms en haar herkoms word verklaar toe sy sê dat haar Sweedse ouers haar as n baba uit Suid-Amerika aangeneem het.

Ek besluit om die seerplek op my hakskeen n dag kans te gee en haak by Catarine, en ook Janet, n 70-jarige Kanadese aktrise vas.

Catarine is n aanwins. Sy praat vlot Spaans en stiptelik om agt hou die taxi wat sy vir ons gereël het, voor die Albergue stil. Ek het n hostal op die internet geïdentifiseer, en tjop-tjop bespreek sy drie enkelkamers, met n peregrino-afslag op die koop toe!

Middagete in Najera beveel sy aan watter pinxtos (tapas) ons moet eet. Sy ken haar kos – elkeen is heerlik. Ons ontmoet teen 7 vir aandete. ‘We’ll go to the nice place that Sophie found’, verklaar ons hoofmeisie. (Wie is Sophie?) ‘I’ll just need to text Joe. He would like to join us.’ (Wie de hel is Joe?)

Die eetplek is voorwaar n fonds. Joe, n afgetrede Amerikaanse ingenieur, sluit by ons aan. ‘Heard anything from home today?’ vra ons hoofmeisie. Blykbaar is daar huismoles in San Diego omdat Joe net doen wat hy wil, en nie sy vrou se behoeftes in ag neem nie. Jammer om oor jou probleme te hoor, ou swaer.

Die hoofgeregte kom en Catarine tip Joe se tjips in haar bord uit. ‘Not good for his cholesterol’, sê hoofmeisie, en val weg. Joe knip nie n oog nie. ‘How long have you known each other?’, vra ek. ‘O, we met yesterday’, sê hoofmeisie. Ek wil graag by Joe hoor oor sy eertydse maatskappy se betrokkenheid by die ontwikkeling van Sasol. ‘We don’t talk work. It’s not in the spirit of the Camino’, verklaar hoofmeisie. Janet, die Kanadese aktrise stem saam – so sal dit dus wees.

Janet, n effense gehawende weergawe van Maggie Smith, het n stem wat selfs die gehoor in die agterste gestoeltes sal laat regop sit. Sy is op die Camino om te besluit of sy haar man gaan los, of nie. Dis n tweede huwelik, so sy wonder nogal hard. ‘The first time you marry, it’s to get a father for you children. The second time is to get a husband.’ Haar man ( self 70) is besig om haar liederlik teleur te stel. Hy is wel n goeie companion, maar is blykbaar nie n lover se agterent nie. Die ou niksnuts het selfs eenkeer vir haar n vars vis by die hawe gaan koop vir hulle anniversary. Sy was so blind van woede dat sy vir drie maande nie met hom gepraat het nie. Ek dink die ou swerkater het dalk n plan gehad!

Vanoggend pak ek my rugsak twee maal oor om my reisgenote n head start te gee. Toe ek by die volgende dorp kom en wil stop vir ontbyt, kom hoofmeisie en Maggie Smith net uit die bar waar ek inloop. ‘No, go over the street. The woman here is rude and the croissants doughy.’ O, okay, sê ek. Ek eet klein pluisies croissant (glad nie degerig nie) en talm oor n tweede koppie koffie. Dis hier waar ek vir hoofmeisie en Maggie gaan afskud.

Ek stap n dorp verder as wat ek beplan het en geniet elke oomblik van my stap. Die son skyn op my rug en ek het n lied in my hart. Vanaand slaap ek by n wonderlike hippie-joint in Grañon. Dit voel vir my net reg – iets soos die Suntouched Inn in Napier.

Op pad die dorp in, ontmoet ek my eerste mede-Suid-Afrikaner, n lekker meisie oorspronklik van Boesmanriviermond, maar nou van Kaapstad. Ons praat n rukkie en gaan elkeen ons eie pad. My hart is lig en my voetvalle vinnig. I walk alone, sing ek saam met sis Miriam.

I walk alone … of nie?

 

Die

 

Rooi papawers herinner aan die oorlog.

 

Die pad vorentoe.

 

‘n Amandelboom staan in bloei.

 

 

Die afgelope twee dae stap ek alleen. Dit werk vir my soveel beter as om saam met iemand te stap. Ek kan stop as ek wil, elke nou en dan n foto neem, en ek voel nie die druk om n ambassadeur vir my mense en my land te wees nie. Miriam Makeba se pragtige lied, I walk alone, kom heeltyd by my op. Sy is in haar liefde verlaat, maar met my is dit geensins die geval nie. Ek voel geliefd en gekoester.

Gister se 22 km vat my op n geel grondpad deur groen koringlande, afgewissel deur die geelste canola en elke nou en dan n olyfboordjie waar die boompies ewe groot en in gelid vir jare al staan. Ek stap van Estella na Los Arcos, n slaperige dorpie midde in die Navarre provinsie.

Die Albergue waar ek inboek is klein en word privaat deur n oulike Spaanse couple gerun. Die krulkop vrou met haar donker oē bak n ringkoek vir ontbyt en vir €3.50 was hulle n mens se klere en maak dit droog.

Ek stap oor n pleintjie na die kitsbank. Die masjien sukkel effens, maar ek kry geld getrek. Nou wil ek net kyk wat my saldo is. Ek sit weer die kaart in en die volgende oomblik is die skerm wit. Kaart opgevreet, done an dusted!

Dis Vrydagmiddag, die bank is reeds sedert 2 uur toe, dis nou half 4 en soos ek kan aflei, maak dit eers 8 uur Maandagoggend oop. Ek kyk rond, maar daar is geen hulp te kry nie. Minute later sien ek twee meisies binne die bank. Hulle het seker laat gewerk en is nou op pad huis toe. Toe hulle uitkom, verduidelik ek in gebaretaal wat gebeur het. Ek word begroet deur n masjiengeweer se Spaans – jammer, kom Maandag terug. Ag liewe Here, sê ek in Afrikaans. Ek is n peregrino, hoe sal ek Maandag kan terugkom? Dis òf die Afrikaans, òf my desperaatheid, òf die woord peregrino (pelgrim in Spaans), maar die een meisie se hart versag, sy sluit weer die bank oop en kom oomblikke later met my kaart terug. Baie, baie gracias, mucho baie dankie, wonderlik!

Vandag loop ek van Los Arcos na Viana, die son skyn en weer is die lewe n lied. Later begin die wolke saampak. Toe ek die Albergue se deur oopstoot, maak die hemele oop.

I walk alone? Ek glo nie. Ek dink die hemelse leërskare is opgekommandeer om my deur die Camino te lei. Hulle kom in alle soorte en vorms – en ek sê dankie.

Shall we ‘vang n veltie’?

      

Na ongeveer 45 km oor twee dae, begin die realiteit van die Camino nou inskop. Ek lê lekker vars gestort in my lounge suit / leisure wear / engiste alternatief vir stapklere in n hostel in Estella. n Uur gelede het die lewe nie so rooskleurig gelyk nie, maar meer daaroor later.

Gisteroggend in Pamplona besef Steffi tydens ontbyt dat sy steeds nie sal kan stap nie weens die blase – eerder wonde – op haar voete. Na n treurige totsiens vat ek die pad. Skaars twee robotte verder loop ek vir Gina van Berlyn (dag 1) en Hans (ons depressiewe Duitser) van agter af in. Dis n blye wedersiens en nadat ons vir Hans by die volgende koffiewinkel agterlaat, is dit ek en Gina vir die volgende twee dae.

As n mens so stap en baie water drink, moet jy noodwendig elke nou en dan n draai agter n bos loop. Ek vertel vir Gina dat n mens n veltie vang in Afrikaans – you catch a little  piece of field. Sy is baie ingenome met haar eerste Afrikaans, en stel telkens oor twee dae voor: Shall we vang n veltie?

Ons stap deur pragtigste omgewing. Die lente is hier in Europa in al sy glorie. Dis goudgeel canola-lande, pers irisse en bloedrooi papawers langs die pad. Ons klim na een van die hoogste punte op die Camino, Alto de Perdon waar daar n treffende beelhouwerk is wat die gees van die Camino uitbeeld. (Sien foto)

Een van die groot vreugdes op die pad is om vir cafe con leche grande – n groot koppie melkerige koffie – in n bar te stop. Die kaffeien gee n mens n hupstoot soos min.

Ons stap en gesels oor waar Gina, as Oos-Duitser was toe die nuus gebreek het oor die val van die Berlynse muur, en hoe sy en haar gesin vir vier ure tou gestaan het vir 100 Deutsche Mark wat hulle toe in Wes-Berlyn in n speelgoedwinkel gaan uitgee het. Dis geskiedenis op sy beste.

Ons slaap by n private Albergue buite Puente la Rente wat my effens aan die Aventura-oord by die Gariep-dam herhinner, maar die kos is lekker, die wasmasjiene vinnig en ons is net twee in n piepklein kamertjie.

Vanoggend vat ons weer die pad met die gewone roetine: shall we vang n veltie, how about a cafe con leche, let’s take a break.

Toe ons by Estella, so 23 km later kom, klop die blaas op my voet. Gina wil nog n bietjie aanstoot, maar ek draai af na die stad toe.

Dis baie vreemd om n stad binne te stap sonder n plan. Ek boek by die munisipale Alberge teen €6 in, maar toe ek in die slaapsaal kom, begewe my moed my. Twintig stapelbeddens, waarvan net top bunks oor is, klein Koreane wat reeds in hulle slaapsakke lê en snork, moeë middeljarige vrouens wat hulle stukkende voete sit en ondersoek…

Ek los my sak en stokke en stap af in die straat. Asseblief dat ek tog n ander slaapplek kry. Ek stap seker 2 km en sien dan n teken met n H op – hier is n hostel naby. Ek druk die knoppie van iets wat soos n woonstelblok lyk, die deur gaan oop en ek gaan op na die eerste vloer. n Ou Spanjaard maak vir my oop. Ja, daar’s een kamer oor. My hande bewe van opwinding toe ek die €35 betaal. My eie kamer, twee wit handdoeke, n warm stort. Ek kry die sleutel en huppel my pad terug na die munisipale Alberge. Ek glip verby die pelgrims – party eet pasta uit plastieksakke – gryp my sak en stokke en loop daaruit, sonder om n woord te sê.

Ek weet nie hoeveelste lessie die pad my vandag geleer het nie, maar hier is dit. Stap daai laaste 2 km, eerder as om te settle vir dit wat jou moed gaan breek. En dan is dit moontlik om nog n dag op die Camino deur te sien.

 

 

They took my friggin’ kidney!

 

Dis hoe ek voel oor die ou wat my skoene gesteel het.

 

 

Een van my gunsteling animasies op youtube is van Charlie the Unicorn wat deur ander eenhoring-perdjies verlei word om na Candy Mountain toe te gaan. Nadat hy eindelik verlei is, word hy wakker en sien n sny op sy lyfie: “Someone took my friggin’ kidney”, skree hy. Wel, dis hoe ek gevoel het toe ek vanoggend by die skoenerak in my Auberge in Zubrisi kom en my getrouste vriende, my kosbaarste stapskoene is weg. Daar staan wel n paar Merrils met oranje trim, maar my Keens met pienk trim is skoonveld.

Net 16 mense het daar geslaap en die vyf wat na die eerste rush oor is, is verstom. “En dit op Camino! Who would have thought!

Ek staan vir 15 minute besluiteloos rond, los n bitsige briefie op die Merrils en stap na die skoenwinkel op die brug. Nou het ek teen €129 n aanvaarbare en gemaklike nuwe paar skoene en het, net om nie kanse te vat nie, eerder die bus geneem Pamplona toe as om te stap. Op die bus kry ek vir Steffi van Duitsland wat weens erge blase op haar voete ook nie vandag kan stap nie – gedag sy het dit gister n bietjie oordoen.

Ek wonder vlietend of dit nie my lelike gedagtes teenoor John en Deb van Australië was wat hierdie ramp veroorsaak het nie, maar laat dadelik die gedagte gaan. Bogemoende paartjie, die honeymoon couple van dag 1, het ook gisteraand in die Auberge Souisa geslaap. Ek is lus vir n glasie wyn en vra of ons saam aandete gaan kry. Aussies sal mos graag n bottel rooiwyn met ander deel. Ons sit skaars, toe ek begin wonder. Hulle vertel van hulle afgelope troue in Salt Lake City in die VSA en hoe hulle op n kerkkamp ontmoet het. Toe die kelnerin nader kom, vra ek of ons n bottel wyn sal deel. Ek kon net sowel iets baie leliker voorgestel het, so heftig reageer hulle. Nee, nee … We don’t touch the stuff. Ooooops. Sal julle omgee as ek n glas rooiwyn bestel, vra ek onseker. John is gasieus, maar Deb verklaar, met n suur trek om haar Mormoonse mondjie dat as ek my ete wil bederf deur alkohol, is die seker my probleem. Na n lang tafelgebed by die straatkafee, eet ek langtand aan my seekos paella. Gelukkig het ek n glas wyn om die edge van die geselskap af te vat.

So nou lê ek lekker in n hotelkamer in Pamplona wat ek met Steffi deel. Ons het heerlik gelunch, met meer as een glas wyn, die katedraal gaan kyk, en more is nog n dag.

NS: By die restaurant sien ons vir Hans, die depressiewe Duitser van dag 2. Hy het sy toonnael verloor en ry nou maar bus verder!

Dag 2 – done and dusted

 

Die mis maak dat ek kies om deur die vallei eerder as oor die berg te stap.

 

Die Pyrrenee in die verte.

 

 

Gister was n killer. Niks wat n mens in Camino-boekies lees, kan jou voorberei nie. Na n heerlike aand by die Beilari (‘pelgrim’ in Baskies) – herberg in St Jean, staan ons vroeg op. My gevoel van uitmis omdat ek nie saam met Gina van Berlyn gestap het nie, is lank vergete. Ek deel n kamer met Catalina, n Colombiese veearts wat vir my foto’s van haar Geat Danes wys, en dan ook met Jeanette, n formidabele Hollander wat lyk of sy die Camino gaan pakslae gee.

Hoekom is sy hier? Die vraag wat almal vra na die eerste uitruil van naam en land van herkoms. Sy wil twee maande hê sonder ‘appointments’. Vir jare was sy n uiters besige IT-konsultant en toe word sy siek. Weer een appointment na die ander. Is jy nou beter, vra ek sonder om te dink. Sy is die toonbeeld van gesondheid. Nee, sê sy. Sy het borskanker en dit het na haar bene versprei. Sy kan nou óf agter n venster sit en wag, of sy kan die Camino stap.

Keer op keer in die afgelope twee dae dink ek weer aan Jeanette.

Die mis lê dig in St Jean en ek kies die lae roete deur die vallei, eerder as die Napoleontiese roete oor die Pyrrenee. Gou stap ek saam met Bernadett van Hongarye wat al vir 20 jaar in Los Angeles as n persoonlike assistent vir twee ryk families werk. Ons stap soos human dynamos en is 10 uur reeds in Loscarlos, 10 km verder. Terwyl ons koffie drink by n bar kom José van die US by ons aan. Hy het 30 jaar terug as Lieutenant Colonel uit die US Airforce afgetree. Hy is 78 en het al  baie stukke van die Camino geloop. Sy ou pêl wat 79 is, stap die bergroete. José wonder of ons saam met hom n taxi wil deel, want hy wil nou opgee. Ons wil nog stap en bied aan dat hy saamstap. Na kilometers se op en af begin die opdraend. Bernadett, wat op pad is na haar 40ste verjaarsdag, laat waai. Ek en Josė bly oor. Hy dra swart Grasshopper skoene en uitgerekte sokkies wat hy met elke stop optrek. Skaars n paar tree verder en sy skoene eet sy sokkies op. Ek kyk na sy bleek-blou oumens hakskeentjies en ek verlang na my pa.

Op en op, en dan is daar n draai, en voor ons is op en op. Ek moedig vir Josė aan: just take 20 steps and then we rest. Ok, now 20 more. Jare se sportliedjies sing is besig om vrugte af te werp. En later is dit Josė wat sê, just 20 steps and then we rest. Nege ure van die begin van 27 km kom ons by n teerpad aan. Josė spring in die pad en stop n jong Spanjaard in n rooi sportmotor. Hy wil hê ek moet saamry, maar voor is n fonteintjie met water en ek is net te dors. Blykbaar was die rit net drie minute lank, maar toe ek later vir José, skoongestort by die Albergue (herberg) kry, sê hy dit was die beste drie minute van sy lewe.

Gisteraand slaap 180 van ons in een herberg. Daar is cubicles van vier beddens elk en ek is op die boonste bunk, bo Hans van Duitsland. Hy sit met sy maag wat laag tussen sy bene hang en bekla sy lot. Hy is kapott – niemand weet hoe swaar hy kry nie. Sy lewe is een groot smartlikheid. Hy kan nie eers genoeg Engels praat dat die Australiaanse ouma op die ander onderste bunk hom verstaan nie, weeklaag hy. Hy soek die woord om aan haar sy kondisie te beskryf. Hans is depressed, voeg ek behulpsaam by. Yes, bulder hy en slaan met n groot vuis op sy been. That is the word, I’m depressed.

Later snork Hans so erg dat die klank sonder weerstand verby die pienk Dischem oorpluisies in my ore gly. Maar daar is niks wat baie fisiese oefening en twee Disprintjies nie kan uitsorter nie, en ek raak uiteindelik aan die slaap.

Vandag was wonderlik met die mooiste weer en omgewing. Nou en dan trek n vliegtuig n wit krytstreep deur die blou lug, en ek stap deur woude en oor waterstrome. Nou is dit weer afdraend, maar alles is so mooi! Ek stap n ent saam met Steffi van Duitsland, maar stel haar teleur as ek wil stop om water te drink. Sy stap voort. Daarna saam met n Fransman wat óf n bekende rugbyspeler van Toulouse was, of net bekende rugbyspelers geken het. Hy was óf in Suid-Afrika on Sharks spelers te werf, of hy was net by n Sharks wedstryd. Ons verstaan mekaar nie 100% nie, maar praat lekker rugby.

Nou sit ek vars gestort en drink my tweede bier terwyl ek skryf. More is nog n dag, en ek kan nie wag nie.