Shall we ‘vang n veltie’?

      

Na ongeveer 45 km oor twee dae, begin die realiteit van die Camino nou inskop. Ek lê lekker vars gestort in my lounge suit / leisure wear / engiste alternatief vir stapklere in n hostel in Estella. n Uur gelede het die lewe nie so rooskleurig gelyk nie, maar meer daaroor later.

Gisteroggend in Pamplona besef Steffi tydens ontbyt dat sy steeds nie sal kan stap nie weens die blase – eerder wonde – op haar voete. Na n treurige totsiens vat ek die pad. Skaars twee robotte verder loop ek vir Gina van Berlyn (dag 1) en Hans (ons depressiewe Duitser) van agter af in. Dis n blye wedersiens en nadat ons vir Hans by die volgende koffiewinkel agterlaat, is dit ek en Gina vir die volgende twee dae.

As n mens so stap en baie water drink, moet jy noodwendig elke nou en dan n draai agter n bos loop. Ek vertel vir Gina dat n mens n veltie vang in Afrikaans – you catch a little  piece of field. Sy is baie ingenome met haar eerste Afrikaans, en stel telkens oor twee dae voor: Shall we vang n veltie?

Ons stap deur pragtigste omgewing. Die lente is hier in Europa in al sy glorie. Dis goudgeel canola-lande, pers irisse en bloedrooi papawers langs die pad. Ons klim na een van die hoogste punte op die Camino, Alto de Perdon waar daar n treffende beelhouwerk is wat die gees van die Camino uitbeeld. (Sien foto)

Een van die groot vreugdes op die pad is om vir cafe con leche grande – n groot koppie melkerige koffie – in n bar te stop. Die kaffeien gee n mens n hupstoot soos min.

Ons stap en gesels oor waar Gina, as Oos-Duitser was toe die nuus gebreek het oor die val van die Berlynse muur, en hoe sy en haar gesin vir vier ure tou gestaan het vir 100 Deutsche Mark wat hulle toe in Wes-Berlyn in n speelgoedwinkel gaan uitgee het. Dis geskiedenis op sy beste.

Ons slaap by n private Albergue buite Puente la Rente wat my effens aan die Aventura-oord by die Gariep-dam herhinner, maar die kos is lekker, die wasmasjiene vinnig en ons is net twee in n piepklein kamertjie.

Vanoggend vat ons weer die pad met die gewone roetine: shall we vang n veltie, how about a cafe con leche, let’s take a break.

Toe ons by Estella, so 23 km later kom, klop die blaas op my voet. Gina wil nog n bietjie aanstoot, maar ek draai af na die stad toe.

Dis baie vreemd om n stad binne te stap sonder n plan. Ek boek by die munisipale Alberge teen €6 in, maar toe ek in die slaapsaal kom, begewe my moed my. Twintig stapelbeddens, waarvan net top bunks oor is, klein Koreane wat reeds in hulle slaapsakke lê en snork, moeë middeljarige vrouens wat hulle stukkende voete sit en ondersoek…

Ek los my sak en stokke en stap af in die straat. Asseblief dat ek tog n ander slaapplek kry. Ek stap seker 2 km en sien dan n teken met n H op – hier is n hostel naby. Ek druk die knoppie van iets wat soos n woonstelblok lyk, die deur gaan oop en ek gaan op na die eerste vloer. n Ou Spanjaard maak vir my oop. Ja, daar’s een kamer oor. My hande bewe van opwinding toe ek die €35 betaal. My eie kamer, twee wit handdoeke, n warm stort. Ek kry die sleutel en huppel my pad terug na die munisipale Alberge. Ek glip verby die pelgrims – party eet pasta uit plastieksakke – gryp my sak en stokke en loop daaruit, sonder om n woord te sê.

Ek weet nie hoeveelste lessie die pad my vandag geleer het nie, maar hier is dit. Stap daai laaste 2 km, eerder as om te settle vir dit wat jou moed gaan breek. En dan is dit moontlik om nog n dag op die Camino deur te sien.

 

 

3 thoughts on “Shall we ‘vang n veltie’?

  1. Hi Jenny. Marita vertel my van jou stappery, wonderlik!!!! Jy stap presies dieselfde tyd as wat ek laas jaar gestap het. Het wel net 16 dae gestap, 330km’s, het nie meer tyd gehad nie. Lekker vir my om jou te volg so al langs die bekende plekke. Iets oor die ‘vang n veltie’, ek het n girl van Brazil ontmoet wat n kontrepsietjie gehad het, waarmee sy ‘n veltie gevang het. Sommer so staande soos die manne. Het haar woes beny…moet se na baie aande se slaap saam met ander, verskillende genders en dies meer in hostelle, en badkamers deel met manne het ek later ook nie meer te veel geworry oor wie my sien ‘n veltie vang nie 🙂 Buen camino!!!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s