Ontmoet die Hoofmeisie van die Camino

 

Die winter is nog nie verby nie.

Nog ‘n ver pad om te gaan.

Eers afdraend en dan opdraend.

‘n Hippie-alberge.

Die hoofmeisie-fenomeen het my nog altyd opgeval. In Suid-Afrika kom hulle dikwels voor. Boggomsbaai, waar ons vakansie hou, het een, asook elke kleuterskool, laer- en hoërskool waarby ek ooit betrokke was – ek praat hier oor die ma’s, nie die kinders nie! En so ontmoet ek die hoofmeisie van die Camino, n ware voorbeeld van haar spesie. 

Haar naam in Catarine, sy is 33 jaar oud, kom van Swede, maar bly nou in Londen met haar veel ouer Hollandse man. Voor sy haar pos bedank het om op die Camino te kom, was sy n food & beverage manager vir n vyfster Londense hotel. Sy het pikswart oë en hare en n koelronde lyfie. Die verskil tussen haar voorkoms en haar herkoms word verklaar toe sy sê dat haar Sweedse ouers haar as n baba uit Suid-Amerika aangeneem het.

Ek besluit om die seerplek op my hakskeen n dag kans te gee en haak by Catarine, en ook Janet, n 70-jarige Kanadese aktrise vas.

Catarine is n aanwins. Sy praat vlot Spaans en stiptelik om agt hou die taxi wat sy vir ons gereël het, voor die Albergue stil. Ek het n hostal op die internet geïdentifiseer, en tjop-tjop bespreek sy drie enkelkamers, met n peregrino-afslag op die koop toe!

Middagete in Najera beveel sy aan watter pinxtos (tapas) ons moet eet. Sy ken haar kos – elkeen is heerlik. Ons ontmoet teen 7 vir aandete. ‘We’ll go to the nice place that Sophie found’, verklaar ons hoofmeisie. (Wie is Sophie?) ‘I’ll just need to text Joe. He would like to join us.’ (Wie de hel is Joe?)

Die eetplek is voorwaar n fonds. Joe, n afgetrede Amerikaanse ingenieur, sluit by ons aan. ‘Heard anything from home today?’ vra ons hoofmeisie. Blykbaar is daar huismoles in San Diego omdat Joe net doen wat hy wil, en nie sy vrou se behoeftes in ag neem nie. Jammer om oor jou probleme te hoor, ou swaer.

Die hoofgeregte kom en Catarine tip Joe se tjips in haar bord uit. ‘Not good for his cholesterol’, sê hoofmeisie, en val weg. Joe knip nie n oog nie. ‘How long have you known each other?’, vra ek. ‘O, we met yesterday’, sê hoofmeisie. Ek wil graag by Joe hoor oor sy eertydse maatskappy se betrokkenheid by die ontwikkeling van Sasol. ‘We don’t talk work. It’s not in the spirit of the Camino’, verklaar hoofmeisie. Janet, die Kanadese aktrise stem saam – so sal dit dus wees.

Janet, n effense gehawende weergawe van Maggie Smith, het n stem wat selfs die gehoor in die agterste gestoeltes sal laat regop sit. Sy is op die Camino om te besluit of sy haar man gaan los, of nie. Dis n tweede huwelik, so sy wonder nogal hard. ‘The first time you marry, it’s to get a father for you children. The second time is to get a husband.’ Haar man ( self 70) is besig om haar liederlik teleur te stel. Hy is wel n goeie companion, maar is blykbaar nie n lover se agterent nie. Die ou niksnuts het selfs eenkeer vir haar n vars vis by die hawe gaan koop vir hulle anniversary. Sy was so blind van woede dat sy vir drie maande nie met hom gepraat het nie. Ek dink die ou swerkater het dalk n plan gehad!

Vanoggend pak ek my rugsak twee maal oor om my reisgenote n head start te gee. Toe ek by die volgende dorp kom en wil stop vir ontbyt, kom hoofmeisie en Maggie Smith net uit die bar waar ek inloop. ‘No, go over the street. The woman here is rude and the croissants doughy.’ O, okay, sê ek. Ek eet klein pluisies croissant (glad nie degerig nie) en talm oor n tweede koppie koffie. Dis hier waar ek vir hoofmeisie en Maggie gaan afskud.

Ek stap n dorp verder as wat ek beplan het en geniet elke oomblik van my stap. Die son skyn op my rug en ek het n lied in my hart. Vanaand slaap ek by n wonderlike hippie-joint in Grañon. Dit voel vir my net reg – iets soos die Suntouched Inn in Napier.

Op pad die dorp in, ontmoet ek my eerste mede-Suid-Afrikaner, n lekker meisie oorspronklik van Boesmanriviermond, maar nou van Kaapstad. Ons praat n rukkie en gaan elkeen ons eie pad. My hart is lig en my voetvalle vinnig. I walk alone, sing ek saam met sis Miriam.

4 thoughts on “Ontmoet die Hoofmeisie van die Camino

  1. Ah Jenny, hoe wonderlik klink dit nie alles nie! Dis al lank ‘n droom van my om hierdie staptog te doen… Wie weet, dalk kry ek eendag die geleentheid! Geniet die res van jou tog! 🙂

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s