Soos n perd wat stal geruik het

 

Vroegoggend op my laaste stapdag.

 

 

Die koring staan hoog na amper ses weke op die pad.

My geliefde padslakkies.

En so kom ek in Santiago de Compostella aan.

Syaansig van die katedraal. Die voorkant word gerestoureer.

So hier sit ek nou net na 12 in die middag in n kafee in Santiago de Compostella en drink n glas rooiwyn op my aankoms in die heilige stad. Die katedraal toring bo my uit, maar ek sal more my laaste mis daar bywoon. Klimaks … antiklimaks? Wel, nie een van die twee nie, want ek het geen verwagtings van n epiese aankoms gehad nie. Die feit dat ek 765 km gereis het – omtrent 700 daarvan te voet, is oorgenoeg vir my.

Na twee dae se naderkoms slaap ons gisteraand in Pedrouzo, so 19 km van Santiago af. Ek en Linda van Holland is nou geswore reisgenote, behalwe wat die stap betref. Ons eet saam en bly saam, maar verkies om alleen te stap.

Gisteraand eet ons saam met Gunnar (my gunsteling peregrino). Hy bekla sy lot oor sy reisgenote: Mary (die een vir wie spiritualteit haar gunsteling tydverdryf is) en haar man (Andy, Randy, Sandy?). Gunnar het erge kritiek van hulle af gekry oor allerlei, soos byvoorbeeld dat hy die vroue-toilet by stopplekke gebruik in plaas daarvan om vir die manstoilet te wag. Arme Gunnar is oor en oor daarvoor gekastei. Weer eens dank ek my sterre dat ek alleen stap. Ek dink nie kritiek van n reisgenoot sou vir my gewerk het nie.

So kuier, kuier kom die Camino tot sy einde, maar vanoggend was ek soos n perd wat stal geruik het. Ek sluip kort voor sewe by die alberge in Pedrouzo uit. Die son kom op toe ek reeds buite die stad is. Voor my loop n paar mense, maar meestal is ek alleen. Ek het tyd om te besin oor die lang pad en watter lesse ek huistoe sal vat.

More gaan ek en Linda n klein Fiat huur en vir vyf dae in n cabana op die kus bly. Sy werk aan n boek oor slaapterapie en ek gaan nog so twee dae langs die kus stap. Ek sal ook dan my gedagtes orden en my laaste blog skryf. Maar vir nou is dit toeris-toeris in Santiago, lekker eet, vir oulaas nuwe vriende vaarwel sê …. Ja, doen wat n pelgrim doen as sy aan die einde van haar reis gekom het.

Glory days soos die tyd aanstap

Ek en Linda drink bier in die Spaanse namiddagson.

Gunnar, my gunsteling-peregrino.

Die 100 km-merker.

Hoe het dit gekom dat ek op n Dinsdag-middag in Mei sit en nonsens praat en bier drink in die son in Spanje? Al stap ek nou al meer as n maand, kan ek partykeer steeds nie glo dat ek die Camino stap en al die goed ervaar wat elke dag oor my pad kom nie. Glory days, soos Bruce Springsteen sing.

Ek en Linda deel eergister n kamer in n Alberge wat n heerlike landelike gevoel het. Die son skyn en ons sit en gesels met Gunnar, een van my gunsteling peregrinos. Gunner is 81 en seker een van die laaste ware hippies wat oor is. Hy is n Noorweër van geboorte, maar het sy hele grootmens-lewe in Kalifornië gebly waar hy by cutting-edge tegnologie soos laser vir oogchirurgie in Silicon Valley betrokke was. Dan was hy ook sewe jaar in n ashram in Indië en het n guru wie hy help om n tempel te bou.

Gunnar hou van goeie stories. Ek vertel hom dat mopanie-bome in die bosveld mekaar waarsku as die koedoes kom. Hy is mal oor dié storie en ek moet dit weer en weer vertel. So sit ons en kuier na n salige dag se stap in die mooiste omgewing denkbaar.

En dan net so lekker soos die een dag, so verander dit die volgende. Gister se stap is bedompig en warm. Die weer is aan die verander en die wind waai keer op keer my hoed van my kop af. Maar erger as dit, steek ek die 100 km merk na Santiago toe oor net na die stad Sarria. Skielik is die Camino gepak met newbies wat net die laaste 100 km stap om n compostela (sertifikaat) te kry wat sê hulle het die Camino voltooi. Daar is groepe Asiërs met die ongelooflikste kit – hoede, nette, maskers, handskoene. Daar is groepe kwetterende Italiaanse meisies wat videos neem soos hulle gaan. Die Amerikaners analiseer luidkeels hoe die rigtinsmerkers werk, en elkeen het n eier te lê. Almal beur en praat en my hart breek as ek keer op keer die slakke wat elke dag oor my paadjie kom, platgetrap onder duisende voete sien.

Ek glo dis ook weer n les – die lewe kan nie net altyd wees soos jy dit wil hê nie. Laatmiddag stap ek en Linda deur n klein dorpie en daar wapper n Suid-Afrikaanse vlag. Ons gaan in en daar is twee beddens oor in n alberge wat bedryf word deur Gordon Bell van Kaapstad. Hy het die huis gekoop en bly sewe maande van die jaar daar saam met Annemarie, sy Deense partner. Ons praat heerlik Suid-Afrika en weer besef ek dat my mense my eindeloos opbeur.

Vandag was die stap makliker, al het dit gereën. Ek kry dit reg om al die hordes uit te sny en draai my kop weg as ek die platgetrapte slakke sien. Pas die 70 km merk oorgesteek. So, as ek die Camino omgekeerd in Suid-Afrika sou loop, van Richmond in die Karoo na Pretoria, is ek nou in Jo’burg. Die pad was lank en swaar, maar die mense wag al daar en die koffie is al klaar, sing ek in my kop soos ek stap.

Klim, klim, klim tot by ‘n punt

 

 

Vroegoggend op die Camino.

 

Die lente maak haar merk op die berghange.

 

n Pelgrim van weleer.

 

Oppad na O’Cebreiro.

 

Na n dag se loop langs die Rio Pereje waar n mens sommer die forel in die helder rivierwater kan sien swem, begin ek gister weer berg-op loop. Die opdraend is swaar, maar die uitsig van hierdie laaste hoogtepunt op die Camino is onbeskryflik. Van hier af is dit (min of meer) afdraend tot in Santiago.

Ek beplan om verder as O’Cebreiro, n pragtige klein klipdorpie op die kruin van die berg, te stap, maar na twee alleendae sien ek vir Linda van Holland en besluit net daar om oor te bly.

Dis Sondag en blykbaar geniet die Spanjaarde n uitstappie na hierdie dorpie as deel van hulle ‘day at leisure’.

My gewone benoudheid dat ek nie gaan slaapplek kry nie, dryf my na die munisipale alberge. Ek kry bed nommer 24 in dormitory A – plaas dat dit as vingerwysing sou dien om liewer die pad te vat!  n Verdere vingerwysing moes wees dat daar nie stortdeure is nie (gelukkig is die mans- en vrouebadkamers geskei) maar ek het mos n manier om te dink alles is eintlik oukei.

Ek en Linda hang lekker in die son rond, drink bier en gaan vir n vroeë aandete voor mis in die klein kerkie.

As avontuurlustige eter bestel ek die spesialiteit van die Galencia-streek. Die Spaanse naam is pulpo (seekat). Die prentjies op die spyskaart lyk heerlik. My pulpo kom en ek begin dapper eet. Die seekat kom met suiers en al en is opgekook met bietjie aartappel. Die eindresultaat is beslis chewy, maar met n glibberige buitekant. Elke stukkie wat ek sluk dreig om terug te spring. Ek gee die stryd gewonne en die kelnerin krul haar lip vir hierdie ongesofistikeerde peregrino.

Na die mis hang ons nog n bietjie rond en gaan toe terug na ons slaapplek.

Ek slaap op n boonste bunk bo n ouerige, Italiaanse, oorgewig man. My moed sak in my skoene: ‘I have seen this romance before and it has a horrible ending.’ En so was dit.

Skaars is die lig af, of Oom begin snork. Ek sit oorpluisies in (geen effek), ek draai om dat my kop anderkant toe kyk (slegte feng shui), later sit ek my baadjie oor my kop en druk die moue oor my ore. Niks help nie. Die hele nag lê ek en luister na die gesnork wat net harder en harder word. Die hele kamer bewe en teen half sewe is almal daaruit, behalwe die Oom.

Gelukkig help die vars lug en na n halfuur se stap, voel ek beter. Maar die voorneme is geneem: nie weer slaap ek in n Alberge nie. Ek is te oud, of te bederf, of te beskaafd, of te pieperig, maar ek kan nie.

My laaste agt dae van die Camino gaan ek lekker in hostals bly waar ek alleen my eie klein snorkies van lekkerkry gaan snork, my eie badkamerdeur oop- of toemaak en waar niks sal maak dat ek nie elke dag se stap waardeer en geniet nie.

Vier weke te voet

 

Op Cruz de Ferro waar derduisende pelgrims al klippies neergesit het.

 

 

 

Windmeulenns en sneeu op die bergtoppe.

 

Madre nostre.

 

Kan nie genoeg van die blomme op die pad kry nie.

 

 

More is ek reeds vier weke te voet op pad na Santiago. Ek kan nie glo dat ek dit actually tot hier toe gemaak het nie. As alles goed verloop behoort ek oor tien dae in Santiago aan te kom. Ek het baie geleer in dié tyd. Hier is n paar lessies – ligsinnig en diepsinnig deurmekaar.

Moet nooit iets in n selofaanverpakking vir ontbyt eet nie (croissant, brood of muffin). Jy sal die verskriklikste sooibrand tot ten minste 11 uur hê.

Bewaar wat waardevol is ten alle koste en laat die res gaan. Die sakkie met my paspoort en kredietkaart gaan selfs stort toe saam met my. Die rosary wat Corneli vir my gemaak het, die buen camino skulpie van sussie Liz en die olifanthaar-armband van Liesbeth en Jomarie bewaar ek met my lewe. Ander goed het ek laat gaan, soos handskoene, dettol, n reën poncho en so aan.

My ondersteuningnetwerk hou my aan die gang. Elke dag se praat met Duan, William wat my besigheid aan die gang hou en almal wat na my pa omsien, is goud werd.

As jy uitkyk vir die tekens langs die pad sal jy nooit verdwaal nie. Dit geld vir die geel pyle op die Camino, maar sommer ook vir die lewe in die algemeen.

n Mens is sterker as wat jy dink.

Dis beter om na ander mense se stories te luister as om jou eie te vertel. Mense sê baie snaakse goed. Mary, n greenie van Kalifornië sê gister vir my: ‘My two favorite things are spirituality and hiking. And here I have both!’ Mooi so, Mary.

Pasop vir vasklouers. Hier op die Camino is daar baie wat glo dat hulle heil van ander afhanklik is.

Daar is niks soos n cerveza grande (groot bier) en n pakkie chips aan die einde van n lang stap nie.

Moenie n tog soos hierdie op n te klein begroting aanpak nie. n Mens het nou en dan bietjie geld nodig vir n nag in n hotel of n lekker ete.

Moenie oorreageer nie … behalwe soms. Dis nie nodig om jou reënjas uit te ruk en aan te trek as die eerste druppels val nie. Al wat gebeur is dat jy n kilometer later natgesweet weer alles moet terugpak. Oorreageer as iets in jou skoen jou pla. Sit op jou bas op die pad, trek jou skoen uit, sny n harde stukkie uit die binnesool met jou Swiss Army mes, verstel jou sokkie. Doen jy dit nie, het jy dae se pyn en lyding.

En einde ten laaste: doen iets wat groter as jyself is. Jy sal verstom wees as jy dit wel regkry.

Foeitog, wat is hulle naampies?

 

 

Ooievaars maak nes op die kerktorings.

 

Heideveld.

 

 

My pa het altyd die storie vertel van die dokter wat sewe skape gekoop het om op sy belastingplasie buite Pretoria aan te hou. Hy besluit om hulle te laat skeer en reageer op n skaapskeerder se advertensie in die Landbouweekblad. ‘Hoeveel skape het Meneer?’ vra die skeerder. ‘Sewe,’ sê hy. Daar is n oomblik stilte: ‘Foeitog, wat is hulle naampies?’ vra die skeerder.

Nou dis net soos ek oor my aardse besittings op hierdie stadium voel. Vir die afgelope maand pas die somtotaal van my besittings in n 10 kg rugsak.

Daar is Stok en Stok-se-maat, my stapstokke. My twee t-shirts se name het met hulle kleur te doen, maar eggo ook my huisdiere se name: Pienkas en Blouki (Pienkas, die violis herhinnerr aan my hond Yoyo (die tjellis) en Blouki is verwant aan Loki, my kat.)

Dan is daar die twee stapbroeke, Stywer en Losser. Aan die begin was Losser loshande die gunsteling, maar soos die kilo’s begin verdwyn het Stywer hom verby gesteek.

My Croc-plakkies is so lelik dat hulle nie n naam het nie, maar soos sekere meisies wat ons ken, het hulle die mooiste persoonlikheid as ek hulle na 20 km se stap en n warm stort aantrek.

Dan is daar my blom serp (wat snags as kussingsloop dien) en my blom sonhoedjie. Hulle heet onderskeidelik Hippie en Ousie. Ousie (die hoed) het ek kort voor my vertrek by n stalletjie in Hatfield gekoop en herhinner baie sterk aan my buurvrou se huishulp Katie se keuse van hooftooisel.

Hippie (die serp) het ek jare gelede in Andringastraat in Stellenbosch gekoop toe ek nog aspirasies gehad het om eerder n hippie as n antie te wees.

En dan my stapskoene: hulle het nie n naam nie, want na die eerste paar drie dae in my stap in gesteel is, het ek besef dat n mens nie oormatig geheg aan aardse besittings moet wees  nie.

Ek is nou goed verby die twee-derdes merk na Santiago op 230 km van my bestemming af. Die dae word min voordat ek weer n oneindige hoeveelheid aardse besittings sal hê. Ek is nie seker of ek daarna uitsien nie. As jy meer eerder as minder het, gee n mens beslis nie vir hulle naampies nie.

Vaarwel, Joe

 

Gure weer op die Camino.

 

 

Die afgelope twee dae is dit gure weer hier in die noord-weste van Spanje. Die loodgrys wolke hang laag oor die aarde, die wind looi uit die suide en die reën kom in vlae. Ek stap met my nifty rooi reënjas in die band van my rugsak. Kom die reën, glip ek hom uit, draai in die wind in dat die jas so n bol oor my rugsak maak, zip toe en daar gaan ek – knus in my rooi kokon. Dis heerlik om in die reën te stap. Ek kan nie glo dat ek so bang was daarvoor nie.

Gisteroggend vertrek en vroeg uit Léon. Ek wuif my maters tot siens. Hulle neem n taxi uit die stad uit om hulle n hupstoot te gee. So teen middagete is my 20 km agter die rug en ek boek in die Alberge  in die klein dorpie Vilar de Mazarife in. Voor in die straat jaag n skaapwagter op n donkie sy trop skape deur die dorp. Hier gaan ek lekker bly.

In die Alberge is daar ou vriende: Linda, my kookmaat van Nederland en Joe, die afgetrede ingenieur van die VSA oor wie ek reeds in die hoofmeisie-saga geskryf het.

Oor die afgelope drie weke sien ek amper elke dag vir Joe. Soms stap ons klein entjies saam, maar meestal loop ons makaar by eet- en blyplekke raak.

Joe is so by die 70 en is trots Republikeins. George Bush (pa en seun) is sy manne. Praat iemand oor Barak Obama, waai hy die gesprek soos n lastige vlieg weg. Hy vertel trots hoe hy en sy bure slinkse planne beraam om vreemdelinge (veral Japanese) uit hulle condo-kompleks uit te hou. Hy stel in n ander ou se land of se stories net niks belang nie – soos ek sê, trots Amerikaans.

Maar wat my sekerlik die meeste irriteer is die minagtende en afwysende manier waarop hy oor sy vrou praat. Hulle is meer as 40 jaar getroud en sy is die ma van sy seuns op wie hy so trots is.

Hy en sy vrou sit vas omdat hy na sy aftrede net sy eie ding wil doen en nie saam met haar wil reis nie. Sy hou van swem in die see en hy kan dit nie verduur nie. Om hom n punt te wys oor sy lang tog op die Camino, het sy nou saam met vriende n toer na Suid-Afrika toe gereël. Gelukkig hoef hy daarmee niks te doen te hê nie.

Joe het n sagte plek vir ferm vrou-vlees. Een van sy gunsteling aanhalings is van een of ander country & western sanger wat sing ‘all I need is a firm feeling woman and a wailing guitar’. Hy praat oor die spierdefinisie van sy gym instruktrise se rug as sy hulle gym klas deur hulle passies vat. Te veel inligting, my ou maat, te veel.

Vanoggend by ontbyt sien ek vir Joe. Elke dag vra almal dieselfde vrae: hoe voel jou voete en hoe ver stap jy vandag?

Joe sê hy stap 30 km en gaan dit só doen vir die volgende 10 dae tot in Santiago. En dié verandering van plan? Ek dog hy het onbeperkte tyd? Nee, sê Joe, hy wil graag terug wees in die VSA voor sy vrou Suid-Afrika toe gaan. Hy mis haar vreeslik en wens hy kon saam met haar op die toer gaan. Haai, Joe – het die ure se alleen stap jou tot ander insigte gebring? Is jy nou bly vir wat jy het? Is 40 jaar se lojaliteit skielik belangriker as n ferm lyf? Lyk my die Camino het sy ding gedoen. Ek sê tot siens vir Joe. Weens sy versnelde pas sal ons mekaar nie weer sien nie. Vaarwel Joe, en buen Camino vir jou.

Langnaweek in Léon

 Karin, Paul, Maria en Pat van Paarl. 

 

San Marcos – 5-ster hotel wat ook in die fliek The Way feature.

 

Daar is seker iets te sê daarvoor om die Camino soos n ware pelgrim te doen -stap  elke tree, bly in die mees basiese akkommodasie, en so. Ek voel anders. As n bietjie luuksheid my gaan help om deur te druk, so be it.

Gisteroggend reën dit katte en honde toe ons in Sahagun wakker word. Ek loop weer my Suid-Afrikaanse makkers van Paarl raak en haak onbeskaamd by hulle aan. Dis Werkersdag in Spanje en niks is oop nie. Daar loop nie n bus nie, en omdat ons nou vyf is, is een taxi nie n opsie nie. Die enigste manier uit die dorp is per sneltrein na Léon n paar uur later. Ons koop kaartjies en verwyl die oggend met koffie drink, die veerligste pastries eet en rondhang op die stasie.

Die trein kom en 35 minute later is ons in Léon – 70 km verder en twee dae se stap net so kafgedraf!

Net soos Burgos, is Léon se katedraal die stad se groot aantekkingskrag. Vanoggend op n toer daarvan hoor ons dis in die 13e eeu gebou en het van die mees skouspelagtige gebrandskilderde vensters.

Nou moet ons blyplek kry in n stad wat oorvol is weens die openbare vakansiedag. Ek en priester Paul los ons rugsakke by die ander en vat die pad. Ons stop by elke hostal en pension. Na omtrent sewe probeerslae en meer as twee ure te voet, kry ons n lekker blyplek teen n billike prys. Ons stap al die pad terug en sluk vinnig n Heineken af voor ons sak en pak die tog na ons blyplek aandurf.

Vandag was n day at leisure in Léon. Churros (soos lang wurmagtige doughnuts) en warm sjokolade vir ontbyt, n toer van die katedraal, pieniek langs die rivier met chorizo, brood en tamaties. Vanaand gaan ek saam met my Katolieke vriende mis bywoon en more stap ek aan. Ek is na liggaam en siel verkwik en reg om die laaste derde van my tog aan te pak.