Glory days soos die tyd aanstap

Ek en Linda drink bier in die Spaanse namiddagson.

Gunnar, my gunsteling-peregrino.

Die 100 km-merker.

Hoe het dit gekom dat ek op n Dinsdag-middag in Mei sit en nonsens praat en bier drink in die son in Spanje? Al stap ek nou al meer as n maand, kan ek partykeer steeds nie glo dat ek die Camino stap en al die goed ervaar wat elke dag oor my pad kom nie. Glory days, soos Bruce Springsteen sing.

Ek en Linda deel eergister n kamer in n Alberge wat n heerlike landelike gevoel het. Die son skyn en ons sit en gesels met Gunnar, een van my gunsteling peregrinos. Gunner is 81 en seker een van die laaste ware hippies wat oor is. Hy is n Noorweër van geboorte, maar het sy hele grootmens-lewe in Kalifornië gebly waar hy by cutting-edge tegnologie soos laser vir oogchirurgie in Silicon Valley betrokke was. Dan was hy ook sewe jaar in n ashram in Indië en het n guru wie hy help om n tempel te bou.

Gunnar hou van goeie stories. Ek vertel hom dat mopanie-bome in die bosveld mekaar waarsku as die koedoes kom. Hy is mal oor dié storie en ek moet dit weer en weer vertel. So sit ons en kuier na n salige dag se stap in die mooiste omgewing denkbaar.

En dan net so lekker soos die een dag, so verander dit die volgende. Gister se stap is bedompig en warm. Die weer is aan die verander en die wind waai keer op keer my hoed van my kop af. Maar erger as dit, steek ek die 100 km merk na Santiago toe oor net na die stad Sarria. Skielik is die Camino gepak met newbies wat net die laaste 100 km stap om n compostela (sertifikaat) te kry wat sê hulle het die Camino voltooi. Daar is groepe Asiërs met die ongelooflikste kit – hoede, nette, maskers, handskoene. Daar is groepe kwetterende Italiaanse meisies wat videos neem soos hulle gaan. Die Amerikaners analiseer luidkeels hoe die rigtinsmerkers werk, en elkeen het n eier te lê. Almal beur en praat en my hart breek as ek keer op keer die slakke wat elke dag oor my paadjie kom, platgetrap onder duisende voete sien.

Ek glo dis ook weer n les – die lewe kan nie net altyd wees soos jy dit wil hê nie. Laatmiddag stap ek en Linda deur n klein dorpie en daar wapper n Suid-Afrikaanse vlag. Ons gaan in en daar is twee beddens oor in n alberge wat bedryf word deur Gordon Bell van Kaapstad. Hy het die huis gekoop en bly sewe maande van die jaar daar saam met Annemarie, sy Deense partner. Ons praat heerlik Suid-Afrika en weer besef ek dat my mense my eindeloos opbeur.

Vandag was die stap makliker, al het dit gereën. Ek kry dit reg om al die hordes uit te sny en draai my kop weg as ek die platgetrapte slakke sien. Pas die 70 km merk oorgesteek. So, as ek die Camino omgekeerd in Suid-Afrika sou loop, van Richmond in die Karoo na Pretoria, is ek nou in Jo’burg. Die pad was lank en swaar, maar die mense wag al daar en die koffie is al klaar, sing ek in my kop soos ek stap.

2 thoughts on “Glory days soos die tyd aanstap

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s