Dis danksy oorle’ Mammie

Stinnie, Annie en Berrie Uys, die dogters van oorle’Mammie.

Vir ʼn jaar nou al verknies ek my elke nou en dan oor die laaste blog wat ek in Maart verlede jaar uit Dubai geskryf het. Nie net het ek ligweg vertel hoe ons met net ʼn lekseltjie saniteerder aan die hande op propvol treine rondry nie, ek het ook bietjie gespot met die mense wat maskers dra en so benoud is vir hierdie sogenaamde virus. Was dit in dieselfde heelal waar ʼn mens grappies van hierdie aard kon maak?

 ʼn Week na die begin van die inperking verlede jaar, droom ek een nag dat ons opstaan en die virus is net weg – weg soos ʼn dief in die nag, net so suutjies gegaan soos wat hy gekom het. Toe ek wakker word en besef dis net ʼn droom het die trane oor my wange tot in my ore ingeloop. Meer as ʼn jaar later het die virus sy intrek in ons lewens geneem asof dit nog altyd by ons was en huil ons oor vriende en kennisse wat nie meer by ons is nie.

Die feit dat ek hier kan sit en skryf oor die pandemie is alles danksy oorle’ Mammie. Van kleins af het my ouma Kitty, ma en tantes dikwels oor haar gepraat – die mooi vrou met die donker oë wat in die Groot Griep van 1918 dood is. Hierdie uittreksel kom uit die geskiedenis van die Vosse (my ouma Kitty se nooiensvan) wat my ma voor haar dood in 2009 geskryf het:

“Op Van Wyksvlei is daar net na die oorlog deur die Departement van Lande ‘n nuwe Superintendent aangestel. Op die klein nedersetting was dit ‘n posisie van aansien en Majoor Uys, met sy klein hartjie en deernis vir arm mense, was ‘n gewilde figuur. Sy swartkop vrou, Christine, was ‘n pragtige mens, statig, rustig en saggeaard. Sy het drie dogters gehad: Annie, ‘n lewenslustige, laggende tiener met haar los rooi-bruin hare en wipneusie wat alreeds die jongkêrels se harte begin breek het, Stinnie, ‘n mooi agtjarige dogtertjie met twee groot blou oë en dik kastaiingbruin vlegsels en Berrie, ses jaar oud met haar gitswart hare en twee vlammende groen oë, haar mamma se “muiltjie”, soos sy die kwaai dogtertjie genoem het. En toe verwag sy weer, net toe die gerugte van die gevreesde griep uit die Kaap oral in die distrik begin uitslaan.

“Met ‘n swaar beklemming om haar hart, miskien ‘n voorgevoel, het sy voorbereidings getref vir die koms van die baba, en met ‘n vreemde sekerheid dat dit dié keer die seuntjie sou wees, die naamdraer wat sy so vurig begeer het vir haar man. Haar geheime vrees, die vae onrus, kon sy nie eens vir haarself uitspel nie. En toe is die baba gebore, uiteindelik die langverwagte seun, Hendrik Schalk Oostewald Uys. Haar man, die sussies, die hele klein gemeenskappie was gaande oor die ou seuntjie. Maar te midde van die opwinding en blydskap het die vrees weer aan haar kom vreet: orals om hulle het die mense gesterf, byna geen huis was onaangeraak deur die vreeslike siekte nie. Buitendien het haar man vreesloos rondgegaan en die arme ontredderde mense bygestaan. Wie was sy dat sy só gelukkig moes wees? Nie een van hulle gesinnetjie is siek nie en nou nog die vreugde oor die seuntjie. Dit was te goed om waar te wees, dit kon nie hou nie.

“Toe sy nie meer saam met haar onrus en vrees kon leef nie, het sy op ‘n dag haar hart uitgepak teenoor haar boesemvriendin. Meraai Vos, die vierde dogter van  Smouskolk se Vosse, het gereeld by haar kom kuier by Lakeside, die groot huis naby die dam waar die Superintendent gewoon het. Sy was die mooiste van die Vos-dogters met haar swart hare en laggende bruin oë, borrelend van pret en lewensvreugde.

“Daar was nie veel geselskap in die omgewing vir die jong meisietjie nie en toe die mooi verfynde vrou haar intrek kom neem op Lakeside, was Meraai vol bewondering vir haar en het graag daar gaan kuier. Gaandeweg het daar ‘n hegte vriendskap ontstaan tussen die twee. Saam het hulle kleertjies gemaak vir die baba, saam opgewonde duim vasgehou dat dit ‘n seun moes wees, dikwels gesels oor die tragiese verloop van die Griep. En toe het Christine op ‘n dag haar geheime vrees met Meraai gedeel: geen mens kon só gelukkig wees soos sy nie – ‘n wonderlike man, drie pragtige dogtertjies en nou die seuntjie. Sy het geweet dit kan nie hou nie, dit was nie vir haar beskore nie.

“Sy het vir Meraai laat belowe dat as sy iets sou oorkom, sy haar babatjie sou versorg. Die jong meisie het vir haar gelag, vir haar verseker dat niks met haar sal gebeur nie, maar tóg op aandrang van die ouer vrou belowe, net om haar gerus te stel. En toe die seuntjie vier maande oud was, het dit gebeur; die mooi vrou met die sagte bruin-groen oë het siek geword en binne ‘n paar dae was sy dood. Toe die nuus Smouskolk bereik: “Mev Uys is dood”, het ‘n geskokte Meraai vir haar ouers vertel wat sy beloof het.

“Sonder om te aarsel het die kwaai ou Willie Vos die kar laat inspan, vir ouma Hannie gesê om alles gereed te kry en met Meraai, eintlik nog ‘n pure kind, Van Wyksvlei toe gery om die baba te gaan haal. Vir die radelose, bedroefde vader was dit ‘n uitkoms en ‘n verhoor van sy beangste gebede om hulp. Hulle is terug Smouskolk toe, Oupa en Ouma en Meraai op die agterste bank van die ou groot kapkar, met die bondeltjie in haar arms. Na ‘n ruk het Hendrik die dogters Transvaal toe geneem na sy broer Koos op Lichtenburg, waar hy hulle sou versorg totdat hulle pa vir hulle voorsiening kon maak op Van Wyksvlei. Hy het vir hom ‘n huishoudster gekry, Anna Jacobs, ‘n liewe mens wat ook bereid was om die dogters te versorg en na ‘n rukkie het hy hulle gaan haal.

“Intussen het Meraai die seuntjie versorg en vertroetel soos ‘n groot pop, met ouma Hannie om by te staan en raad te gee, en almal op Smouskolk was gaande oor die babatjie. Selfs die ongenaakbare, harde oupa Willie het opgegaan in die kleintjie. Sy pa het gereeld vir sy seuntjie kom kuier – dit was die enigste ligstraal in sy droewe bestaan, sy band met sy geliefde Christine. En die tonge het begin losraak. Die jong wewenaar was die skyf vir menige ongetroude maar hoopvolle jong meisie. Nie alleen was hy ‘n aantreklike man nie, maar ‘n man van aansien in die omgewing en die sielige situasie van die moederlose kinders het menige edel jong vrou se hart laat klop.

“Maar eintlik het almal, insluitende die jong bruin-oog Meraai, aanvaar dat hy met haar sou trou en sodoende die onuitgesproke wens van Christine sou vervul. Hy het dan ook heel dikwels op Smouskolk kom kuier.

“So stap hy een oggend by die woonhuis in en daar staan ‘n skraal jong meisie met ‘n dik goue vlegsel om haar kop by die tafel, besig om ‘n rok uit te sny. Hy het dikwels vertel dat hy net daar besluit het: dit is my vrou, sy sal die ma van my kinders word. Hy het sekerlik ook nie gras onder sy voete laat groei om sy oortuiging aan haar oor te dra nie. Dit moes ‘n redelike mate van drama op Smouskolk veroorsaak het: Meraai wat so duidelik die keuse moes gewees het, alreeds verknog aan die seuntjie en sekerlik reeds verlief op die pa, en Kitty met haar verloofde wat vir haar wag in Caledon.

“En so het dit gebeur dat die 26-jarige meisie [my ouma Kitty] haar intrek geneem het op Lakeside, met ‘n diep oortuiging dat sy die taak in opdrag van die Here moes uitvoer. Vir die drie dogters was sy feitlik ‘n vreemdeling en ook vir hulle was dit ‘n moeilike aanpassing. Annie, die tienerjarige was gekrenk en hartseer dat haar ma se plek so gou gevul is. Berrie, die ou “muiltjie”, was rebels en kwaai, in redelose verset teen die vreemdeling. Stinnie, altyd die gemoedelike, vrolike een, vol liefde en gretig om aanvaar te word, was van die begin af die maklike een. Mammie het altyd vertel hoe ‘n pragtige kind sy was met haar bruin krullebol en mollige lyfie en hoe sy geniet het om haar te bad en mooi aan te trek. … Met verloop van tyd het Kitty haar stryd gewen en is sy onvoorwaardelik aanvaar deur die kinders, veral toe daar twee nuwe sussies bygekom het, Janie en Corrie.”

En so terug na vandag toe. My ma, Corrie, was die jongste dogter uit die huwelik tussen Hendrik en Kitty en dis deur hierdie verbintenis dat ek vandag hier sit en skryf – dis alles danksy oorle’ Mammie wat nie die Groot Griep van 1918 oorleef het nie.

5 thoughts on “Dis danksy oorle’ Mammie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s